Markus 10:42-44
Jesus roep hulle toe nader en sê vir hulle: “Julle weet dat dit by die nasies so is dat hulle sogenaamde regeerders oor hulle baasspeel en dat hulle groot manne die mag oor hulle misbruik. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen onder julle wat die eerste wil wees, moet julle almal se dienaar wees.
Om oor te gesels en te dink:
Die dissipels wat saam met Jesus is, sukkel om in Jesus se voetspore te stap. Johannes en Jakobus het pas gestry oor wie die belangrikste in die koninkryk is en gevra om ereplekke in die koninkryk te kry. Jesus roep hulle almal nader en sê dat hulle nie soos die wêreld hulle mag moet misbruik en net aan hulleself dink nie. Jesus keer die orde om. Elkeen van hulle en ons moet dienaars wees. Dit gaan so teen ons grein in. Ons wil eerste en die beste wees, maar Jesus kom wys ons om eerder te dien. Wanneer ons diensbaar is, loop ons in Sy voetspore. Jesus maak dit nie opsioneel nie. As ons onsself volgelinge van Jesus noem, kan ons nie anders as om diensbaar te wees nie.
Gebed
Here Jesus, ek wil nie altyd dien nie, maar ek wil in U voetspore stap. Help my om geleenthede en mense raak te sien wat ek kan dien. Ek wil soos U wees. Amen.