Efesiërs 2:20-22
“Julle is 'n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, 'n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot 'n heilige tempel vir die Here, in wie julle ook saam opgebou word as 'n geestelike huis waarin God woon.”
Om oor te gesels en te dink:
Die Boodskap vertaal hierdie verse so beskrywend om ons te herinner dat ons aan God behoort: “Of laat ek die beeld van die bou van ’n huis gebruik. Julle is deel van die gebou wat God in hierdie wêreld aan die bou is. Die fondament van die gebou is die boodskap oor Jesus wat julle gehoor het van die manne wat deur God gestuur is en namens Hom praat. Die belangrikste steen in die gebou, waarsonder die gebou sommer inmekaar sal val, is Jesus self. Omdat ons almal Jesus s’n is en Hy ons Here is, vorm ons almal saam ’n sterk en stewige gebou. Dit is soos ’n spesiale huis net vir God. Elkeen van julle wat Jesus s’n is, is deel van hierdie gebou. En God self woon in julle gebou omdat sy Gees in julle is.”
Ons behoort aan God. Sy genade het dit vir ons moontlik gemaak. Sy genade in onbeperk.
Mag jy vandag opnuut bewus wees van God se genade en liefde vir jou.
Gebed
Here, dankie vir U genade. Dankie dat ek deel van U kan wees. Dankie dat U Gees in my woon en my elke dag lei. Amen.