Markus 8:34-38
Jesus het toe die menigte mense saam met sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou. Wat help dit 'n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor? Wat sal 'n mens kan gee in ruil vir sy lewe? Wie hom dan vir My en my woorde skaam te midde van hierdie ontroue en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom saam met die heilige engele, en beklee is met dieselfde heerlikheid as sy Vader.”

Om oor te gesels en te dink:
Ons word geroep tot selfverloëning, om in ons self te sterf en pad van dissipelskap te stap - ongeag of dit goed of sleg gaan met ons. Of ons lag en of ons huil, ons is geroep as dissipels. Hierdie teks se ‘kruis opneem’ het minder te make met of ons swaarkry, maar fokus eerder op die ‘sterf’ gedeelte. Om jou eie wil te laat sterf en Jesus na te volg. Om so te lewe dat daar nie onduidelikheid is dat ons gesterf het en Jesus in ons lewe nie. Neem weer die papier waarmee ons die week werk en skryf daarop prakties neer wat dit in jou lewe beteken om ‘te sterf’. Byvoorbeeld om in jou keuses te sterf en na God se wil te soek. Hoe lyk dit? Is daar lewenskeuses wat jy tans moet neem? Is dit om meer gereeld bewus te wees van God se roeping in jou lewe? Hoe lyk dit? Is dit om te onthou dat alles in jou lewe oor God gaan? Wat sal jou daaraan herinner? Skryf neer wat dit prakties in jou lewe vandag beteken dat jy ‘sterf’.

Gebed
Here, ek sit met praktiese voorstelle in my hand. Ek sukkel om myself te verloën. Niemand wil sterf nie. En tog roep U my om in myself te sterf. Vandag kies ek om my kruis op te neem en U te volg. Here, hierdie praktiese dinge [noem dit op] wil ek graag beoefen. Heilige Gees help my hiermee. Amen.

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika