Markus 10:45
“Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”
Om oor te gesels en te dink:
Jesus nooi ons om in Sy voetspore te stap. Hy het vir ons die pad kom wys en nooi ons om Hom na te doen. Hierdie vers vorm die kern en draaipunt van die Evangelie van Markus. Die Boodskap vertaal dit as volg: “Selfs Ek, die Seun van die mens, het nie gekom sodat almal My moet bedien nie. Ek het gekom om ander te dien. Daarom het Ek my lewe gegee sodat baie mense daardeur weer God se eiendom kan word.”
Oswald Chambers vat dit as volg saam: “Dit is maklik om eenmalig as bewonderaar waagmoedig agter Jesus aan op die water te loop. Om Hom elke dag as sy dissipel op droë grond te volg, is ‘n ander storie.”
Dit is ’n moeilike pad om in Jesus se voetspore te volg, maar dit is die beste pad. Mag jy nie moedeloos word om agter Jesus aan te stap nie. Hy was bereid om Sy lewe vir jou te gee, sodat jy aan God kan behoort.
Gebed
Jesus, dankie dat U U lewe vir my gegee het. Dankie dat U bereid was om te kom dien. Ek wil agter U aan stap, selfs al is dit soms moeilik. Amen.