Markus 16:8
”Hulle het uit die graf uitgegaan en weggehardloop terwyl hulle gebewe het van die skrik. Hulle het vir niemand anders iets daarvan gesê nie, want hulle was bang.“

Om oor te gesels en te dink
Markus beskryf vir ons die reaksie van die vroue. Hulle was die eerste getuies van die opstanding. Hulle was bang, want hulle het gedink dat niemand hulle gaan glo nie. Die Afr2020 vertaling stel dit treffend: “want bewing en verbystering het hulle beetgepak. En hulle het vir niemand iets gesê nie, want hulle was bang.“
Hulle het hierdie dubbele emosie beleef van vrees en bewing, maar in ’n positiewe sin. Hulle was verbysterd oor wat hulle beleef het. Hulle het besef dat Jesus leef en nie meer daar is nie. Hulle het probeer sin maak, terwyl hulle terug gegaan het om dit vir die ander dissipels te vertel.
Die Markus-evangelie eindig hier met die woorde: “want hulle was bang”. Rou en eerlik. Ons kan juis hiermee identifiseer. Ons verstaan nie alles nie en kan erken dat ons ook bang is. Ons is verbysterd oor die opstanding en ontdek elke dag nog wat dit beteken dat Jesus opgestaan het. Laat ons verwonderd bly oor Jesus wat opgestaan het.

Gebed
Here Jesus, ek is soms bang, want ek verstaan nie alles nie. Maar ek wil in verwondering bly. Dankie dat U leef en alles vir my moontlik maak. Amen.

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika