Eksodus 33:7-23
7Moses het 'n tent gevat en dit ver buite die kamp gaan opslaan. Hy het dit die tent van ontmoeting genoem. Elkeen wat na die wil van die Here wou vra, het na die tent van ontmoeting buite die kamp gegaan. 8Elke keer wanneer Moses na die tent toe uitgegaan het, het die hele volk opgestaan. Elkeen het by die ingang van sy tent bly staan en Moses agterna gekyk tot hy in die tent ingaan. 9Sodra hy ingaan, het die wolkkolom afgekom en by die ingang van die tent van ontmoeting gaan staan, en dan het die Here met Moses gepraat. 10Wanneer die hele volk die wolkkolom by die ingang van die tent van ontmoeting sien staan, het elkeen by die ingang van sy tent gebuig in aanbidding. 11Die Here het direk met Moses gepraat soos 'n man met sy vriend. Daarna is Moses terug kamp toe, maar sy assistent, die jongman Josua seun van Nun, het nie die tent van ontmoeting verlaat nie. 12Op 'n keer het Moses vir die Here gesê: “Kyk, U beveel my om met hierdie volk te trek, sonder om my mee te deel vir wie U saam met my stuur. Tog het U gesê: ‘Ek ken jou op jou naam; Ek is jou goedgesind.’ 13As U my dan goedgesind is, maak my u wil bekend, sodat ek U kan leer ken en kan doen wat U verwag. Onthou tog hierdie nasie is u volk.” 14Toe het die Here gevra: “Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?” 15Toe het Moses vir Hom gesê: “As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie. 16Hoe sal die mense weet dat ek en u volk u goedgesindheid geniet as U nie saam met ons gaan nie? Dit is juis deurdat U met ons saamgaan dat ons, ek en u volk, anders is as al die ander volke op die aarde.” 17Die Here het vir Moses geantwoord: “Ook wat jy nou gevra het, sal Ek doen. Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam.” 18Toe sê Moses: “Laat ek tog net u magtige verskyning sien!” 19Maar die Here sê: “Ek sal al my voortreflikheid voor jou laat verbykom en Ek sal die Naam ‘die Here’ vir jou uitroep, want Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm. 20Vir My kan jy nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie.” 21Die Here het verder gesê: “Maar hier by My is 'n plek waar jy op die rots kan staan. 22As Ek in my magtige verskyning verbykom, sal Ek jou eers in 'n rotsskeur sit en jou met my hande toemaak totdat Ek verby is. 23Dan sal Ek my hande wegvat sodat jy My van agter kan sien. Niemand mag my gesig sien nie.”

VRAE:

  • Na die volk van God die goue kalf aanbid het, was God baie kwaad vir sy volk. Hierdie keer praat God nie met Moses op die berg nie, maar gaan na Moses in die tent van ontmoeting in die vallei. Hy ontmoet sy mense waar hulle is, diep in die moeilikheid. Hy gaan na hulle want hulle is so ver verwyder van Hom. Hulle is skaam en skuldig voor God. Tog ontmoet God vir Moses steeds soos ‘n vriend. Selfs wanneer God nie meer saam met sy volk wil trek nie. God is so kwaad dat Hy hulle net wil uitroei. Tog is God bereid om sy volk te ontmoet in die ten van ontmoeting. Tog is God bereid om te luister na Sy volk, deur sy dienaar Moses. God is kwaad, maar God is steeds in verhouding met sy volk en ontmoet hulle, waar hulle is. Veral wanneer hulle nie in staat is om God te ontmoet waar Hy is nie
  • Wat besonders is in die gedeelte is dat God toelaat dat Moses Hom oorreed om sy planne te verander. Moses deel wat sy eie behoefte is. Moses wil nie die volk lei as God nie saam met hulle gaan nie. Alhoewel God so kwaad was om nie saam te wil trek nie, en hulle moontlik selfs uit te roei, besluit God om saam met sy volk verder te reis en die verhouding te herstel. Kon jy al ooit so eerlik met God jou hart deel, vra vir wat jy nodig het, selfs al is jy oortuig dat God kwaad is, jou moontlik wil verlaat? Hoe het jou jou hart met Hom gedeel? Hoe groot was jou geloof as dit gekom het by jou vertroue dat God sy hart sal verander of vir jou sal gee waarvoor jy vra? Deel sommer met die Here jou ervaring.
  • Ken jy enige iemand wat tans voel asof die Here vir hulle kwaad is of hulle verlaat het? Hoe tree jy vir hulle in by die Here? Hoe ondersteun jy hulle in hierdie moeilike tyd?
  • God het by die volk verby gestap. Hy het hulle beskerm van dit waarvoor hulle nie reg was nie. Hy het ook verder hulle gelei en hulle versorg. Waar in jou lewe kan jy sien dat God jou beskerm van dit wat nie vir jou goed is nie of nie vir jou bedoel is nie? Waar beleef jy steeds God se leiding en versorging in jou lewe? Deel jou hart met die Here, maar ook met die persoon wat jy ken wat voel dat God nie so naby is nie.

GEBED:
Here, U weet wanneer ek verkeerd is of droogmaak. U weet hoe skaam ek kry of hoe skuldig ek voel. U weet dat dit vir my moeilik is om U dan op die berg te ontmoet. Dankie Here dat U my dan in die vallei kom ontmoet en steeds my lei en versorg. Here, help my om hiervan te getuig. En Here wanneer ek self dit begin vergeet, herinner my aan U trou. Dankie Here, dat U my God is.
Amen

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika