Psalm 139:13-18
U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker: geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot. U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! As ek hulle sou wou opnoem – hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê.
Om oor te gesels en te dink:
Waar begin jou verhaal? Wat is die eerste foto’s in jou lewe se foto-album? Miskien het jy ook groot geword met foto’s wat jou ouers van jou gebêre het as ‘n klein babatjie. En tog kan so ‘n versameling nie presies vasvang hoe ‘n groot wonderwerk jy is nie! Nie eers die eerste sonar foto (indien daar een van jou geneem was) kan presies vasvang hoe wonderbaarlik jy aanmekaar geweef en gevorm is in jou moeder se skoot nie. Foto’s kan nie God se gedagtes oor jou vasvang nie. Die Psalmdigter probeer iets verwoord van hoe besonders ons as mense geskape is. Hoe uniek en kosbaar ons vir God is. Jy is deur God geskape. Wonderbaarlik geskep en hierdié Skepper ken jou. Om te roep ‘kom kyk’ begin dalk by ‘n besef dat God die Skepper van die hemel en aarde is, maar ook jou Skepper.
Gebed
Here, ek raak vandag opnuut bewus dat ek nie per toeval hier is nie. Dat voor ek gedagtes kon vorm, het U al gedagtes oor my gehad. Kom wys my wat U hart vir my is. Wat U gedagtes vir my is en hoe kosbaar ek vir U is. Amen.