Filippense 2:5-11
5Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: 6Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, 7maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, 8het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. 9Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, 10sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, 11en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader.
VRAE:
- God het altyd met sy volk in liefde en genade gehandel. God se volk het egter nie hulle kant van die verbond nagekom nie. God het geweet dat Hy iets moes doen om die verhouding te herstel. Aangesien dit so moeilik was vir God se volk om na Hom te kom vir berg ervarings waar hulle Hom ontmoet en beter leer ken, moes Hy af gaan na die vallei om hulle vry te maak. Die enigste oplossing was om prakties vir mense te kom wys wat die verwagting is, hoe hulle moet leef en hoe hulle weer vir God met vrymoedigheid kan nader.
- Jesus kom wys vir ons hoe God se liefde en hart lyk, in lewende lywe. Hy kom wys vir ons hoe dit lyk om ander en ook God te dien. Hy stel die voorbeeld van hoe toegewydheid lyk. Jesus kom onder mense woon en nooi mense in ‘n verhouding met God is. Almal het toegang. God se genade is nie meer beperk tot God se volk nie, maar ‘n verhouding met die lewende God is vir alle nasies en alle geslagte.
- Wat leer jy van God uit Jesus se handelinge op aarde? Wat leer jy uit Jesus se optredes oor hoe jy mense moet hanteer? Wat leer jy oor jou eie verhouding met God uit Jesus se voorbeeld op aarde?
- Omdat Jesus gekom het, kan ons met vrymoedigheid na God gaan. Is daar iets wat jou keer om met vrymoedigheid na God te gaan? Watter verskonings gebruik jy om nie jou verhouding met God meer van ‘n prioriteit te maak nie? Wat het jy nodig om te weet dat jy God kan nader net soos jy is net waar jy is?
- Hoe kan jy iemand anders aanmoedig om tot God te nader? Hoe kan jy saam met hulle die Here meer intensioneel soek? Hoe kan jy vir ander intree en saam met hulle ‘n deel van die geloofsreis stap?
GEBED:
Here, dankie vir die genade wat u In Jesus na ons gestuur het. Dankie Here dat ons nie enige struikelblokke moet oorkom, lewens moet leef of pryse behaal om weer in verhouding met U te kan staan nie. Dankie Here, dat ons net by U kan kom wees, dat ons U kan ontmoet en dat U dit vir ons moontlik gemaak het. Here, maak ons asb. bewus van oomblikke waarin ons by kan stil word oral waar ons is.
Amen