Maandag, 5 Februarie 2024
Markus 1:15
15Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”
VRAE:
- Aan die begin van Jesus se bediening, begin Hy met sy eerste preek. Jesus begin sy preek en bediening deur te sê die tyd het aangebreek vir die Goeie Nuus. Jesus verkondig hierdie Goeie Nuus, die evangelie regdeur sy bediening totdat Hy aan die kruis sterf.
- Wat is die Goeie Nuus, die Evangelie wat Jesus verkondig? Dit is reeds Goeie Nuus, nog voordat Hy vir ons sondes gesterf het. Nog voordat Hy uit die dood opgestaan het en die dood oorwin het. Hoe lyk hierdie Goeie Nuus? Hoe sou jy die Goeie Nuus vir jouself beskryf, as dit nie net die belofte van ‘n ewige lewe was nie?
- Jesus het mens geword, sodat die verhouding tussen God en mens herstel kan word. Hy het mens geword sodat God onder ons kom woon. Ons is nie meer alleen nie. Wat beteken dit vir jou dat God met jou is? Wat beteken dit vir jou dat die verhouding met God herstel is? Hoe leef jy in die vreugde van hierdie waarheid elke dag?
Gebed:
Here, ek is so dankbaar dat U mens geword het vir ons. Dankie dat U by my is. Dankie dat ek nie meer na U hoef te soek en te wonder en alleen hoef te voel nie. Dankie dat U die verhouding kom herstel het. Dankie dat dit nie meer van my afhang om aan te hou regmaak met U nie. Here, ek weet ek sou verlore gewees het sonder U inisiatief. Dankie vir hierdie Goeie Nuus.
Amen