Markus 6:45-52
45Net daarna het Jesus sy dissipels aangesê om in die skuit te klim en solank vooruit te gaan na die oorkant, na Betsaida toe, terwyl Hy nog eers die mense huis toe stuur. 46Nadat Hy hulle laat gaan het, het Hy die berg op gegaan om te bid. 47Toe dit aand word, was die skuit al ver weg die see in en Jesus alleen op die strand. 48Hy het gesien hulle roei swaar, want die wind was teen hulle. Teen dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle toe aangeloop gekom, en Hy wou langs hulle verbygaan. 49Toe hulle Hom op die see sien loop, het hulle gedink dit is ‘n spook. Hulle het hard geskreeu, 50want hulle het Hom almal gesien en groot geskrik. Maar Hy het dadelik met hulle gepraat en vir hulle gesê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.” 51Hy het toe by hulle in die skuit geklim, en die wind het gaan lê. Hulle was heeltemal uit die veld geslaan, 52want hulle het nie werklik verstaan wat die vermeerdering van die brood beteken nie; hulle kon dit nog nie begryp nie.
VRAE:
- Jesus het gereeld onttrek en gaan bid. In hierdie gedeelte sien ons dat Jesus na die berg gaan om te bid. Ons sien veral dat Jesus gaan bid voor en na groot gebeure in sy lewe. Jesus het die dissipels genooi om saam stil te word en te onttrek sodat hulle stil kan word. Ongelukkig vind ‘n menigte hulle, en is hulle dadelik weer besig met bediening aan mense. Jesus vermeerder die brood en voer vyf duisend mense. Jesus besef dat dit nodig is om hulle kragte weer terug te kry voordat hulle verder kan gaan met hulle bediening wat voorlê. Net nadat Jesus gaan bid het, loop Jesus op die water. Hy ontmoet sy dissipels waar hulle is. Die dissipels beleef Jesus waar hy weer gevul is met nuwe krag en voorbereid vir die volgende gedeelte van hulle bediening. Juis hierna is Jesus in konflik met die Fariseërs. Ek glo Jesus het geweet wat voorlê en wat hy nodig het om die konflik te hanteer.
- Is jy ingestel om God se raad en wysheid te soek voordat jy met enige nuwe projekte begin, take moet aandurf, mense moet ontmoet, situasies moet hanteer? Hoe soek jy God se leiding en onderskeiding? Hoe rus jy in God sodat jy weer met nuwe krag en ywer dit wat voorlê kan aanpak? Hoe kan jy dit nog beter inbou in jou lewe?
- Is jy daarop ingestel om weer stil te word saam met God en nabetragting te doen van alles wat jy deur gegaan het aan die einde van die dag? Is jy so besig dat jy net voortgaan van taak na taak, van afspraak na afspraak? Hoe maak jy tyd om met God jou uitdagings, oorwinnings en vrae te deel? Hoe verander dit jou perspektief op dinge wat gebeur het? Hoe help dit jou wanneer jy nuwe situasies moet hanteer?
Gebed:
Here, ek wil by U stil word. Here, ek wil in U rus. Here, ek weet ek moet my krag in U vind. Here, ek weet ook dat ek terug na U moet kom wanneer ek deur alles gaan wat die lewe my bied. Here, dankie dat ek by U die krag kan vind wat ek nodig het om enige iets aan te pak. Here, dankie dat U my ook weer versorg en herstel nadat ek verskeie uitdagings moes beleef. Here, berei my voor vir dit wat U vir my beplan. Here, help my ook genees en heel word nadat ek gehoorsaam uitgeleef het dit wat U van my vra.
Amen