Markus 10:14-15
”Maar toe Jesus dit sien, was Hy verontwaardig en het Hy vir hulle gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.“
Om oor te gesels en te dink
Jesus moedig die mense, veral die grootmense, om die koninkryk van God soos ’n kind te ontvang. Jesus sê nie dat ons soos ’n kind moet glo nie. Hierdie teks word verkeerdelik so verstaan. Ons sou kon sê: “Wees soos ’n kind, nie glo soos ’n kind nie”
Wanneer ek soos ’n kind is, doen ek wat my ouers van my vra, want ek is afhanklik van hulle. So kan ons as kinders van God deel wees van die koninkryk wanneer ons in afhanklikheid Hom vertrou.
Soos ’n kind altyd die beste van sy ouers verwag, so kan ons weet dat die Vader ook vir ons die beste gee. Dit is Wie Hy is. Omdat Hy ons Vader is, kan ons Sy kinders wees.
Gebed
Hemelse Vader, dankie dat ek U kind is. Ek wil soos ’n kind U koninkryk met ope arms aanvaar. Dankie dat ek altyd welkom is. Amen.