Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”

VRAE:

  • Die gebeure van Paasfees is soms moelik vir mense om te verstaan, wat nog gesê van te glo. Vir sommige kom geloof veel moeiliker as vir ander. Dalk is jy een van die mense wat daarmee sukkel. Dalk het jy talle vrae en soek jy bewyse vir die dinge wat geloof jou vra om te glo. In vandag se gedeelte is dit ook Thomas se uitdaging. Thomas hoor by die ander dissipels dat Jesus opgestaan het en aan hulle verskyn het. Maar dit is so ver buite sy raamwerk dat hy eers bewyse soek om dit te verifieer.
  • Watter vrae leef daar in jou aangaande geloof? Het jy al jou vrae gedeel? Het jy al met die Here gepraat oor die vrae wat binne jou leef? Deel vanoggend alles waaroor jy wonder en meer inligting benodig, met die Here.
  • Ken jy mense wat vrae het oor geloof? Weet jy nie wat om te antwoord nie? Soms is dit moeilik om mense met vrae te sien sukkel. Ons wil vinnige en maklike antwoorde gee sodat hulle ook net kan glo of ten minste nie so twyfel nie. Wat sou gebeur as jy nie vir hulle antwoorde probeer gee nie? Wat sou gebeur as jy vir God vra om vir hulle antwoorde te bring? Wat sou gebeur as jy saam met hulle eerder bid vir antwoorde, sodat hulle geleentheid het om saam met God in verhouding te kan groei terwyl hulle vir die antwoorde vir hulle vrae soek?
  • In plaas daarvan dat jy vandag die twyfel probeer wegstoot of antwoorde op jou eie vind, neem die tree in geloof om vir God te vra vir die antwoorde wat jy benodig. Dit is ‘n moeilike tree, maar dit is ook geloof. In die soek saam met God, gee Hy dalk vir jou presies wat jy benodig. En die reis na die antwoorde is juis waar verhouding gevorm word.

Gebed:
Here, daar is so baie wat ek nie altyd verstaan nie. Ek wil antwoorde hê wat ek nie tans het nie. Here, help my met dit waaroor ek twyfel. Here, help my om die antwoorde te vind wat ek benodig. Here, help my om te begin glo. Here, help my.
Amen

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika