Markus 1:15
15Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”
VRAE:
- Jesus vra dat mense hulleself moet bekeer, lank voordat Hy vir hulle sondes gesterf het. Hierdie bekering is nie net bedoel om plaas te vind sodat mense eendag die ewige lewe kan ontvang nie. Dit is bedoel sodat mense nou reeds in hierdie wêreld die volle vrede, vreugde en liefde wat ‘n verhouding met God in hou, kan beleef.
- Baie mense “bekeer” omdat hulle bang is vir die hel. Hulle is bang vir die straf wat God gaan toedien. Maar wanneer mense bekeer slegs omdat hulle bang is vir God en die konsekwensies wat kan volg, leef hulle nooit werklik uit geloof en lewe in oorvloed nie. Mense leef dan in vrees vir wanneer hulle weer die foute van voorheen maak en die straf wat daarmee saamkom.
- Waarom wil jy bekeer? Omdat jy bang is vir die konsekwensies as jy nie beker nie? Of wil jy bekeer omdat jy besef die lewe beter is wanneer jy in verhouding is met die lewende God? Waarom is dit vir jou belangrik dat jy en ander bekeer? Deel jou hart met die Here.
- Hoe lyk hierdie lewe nadat jy bekeer het? Baie dieselfde as voorheen? Totaal deur vrees gedryf en baie eng? Of deur vryheid en liefde gedryf met oorvloed? Hoe lyk dit om keer op keer te bekeer en elke dag saam met God oor te begin?
GEBED:
Here, ek wil nie na U toe vlug net omdat ek bang is vir hel of die konsekwensies van my optredes nie. Here ek wil bekeer en na U toe draai omdat ek glo U is my Here, U is my veilige vesting en by U is die enigste ware lewe. Dankie Here dat ek nou reeds hierdie lewe in oorvloed kan beleef. Dankie dat ek die vrug van hierdie lewe elke dag saam met U kan geniet. Here, U is werklik die enigste antwoord wat ek nodig het vir al my uitdagings.
Amen