Markus 10:15-16
”Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie. Hy het sy arms om die kindertjies gesit, hulle die hande opgelê en hulle geseën.“
Om oor te gesels en te dink
Jesus verwelkom die kindertjies. Dit was eintlik ’n baie vreemde ding wat Jesus doen. Kinders is in daardie tyd nie as belangrik geag nie. Tog kies Jesus om hulle aan te raak en te seën. Jesus het hulle omhels en vir hulle gebid. Ons almal weet dat fisiese aanraking kosbaar is en soveel meer nog as iemand vir jou bid. Ons het dit almal nodig.
Nie net om dit te ontvang nie, maar ook om dit te gee. Wie is daar wie jy vandag kan aanraak en voor kan bid?
Dit mag dalk iemand wees wat deur ander mense nie raak gesien word nie, tog is hulle net so belangrik soos die kindertjies.
Kom ons wys vandag vir iemand Jesus se liefde deur hulle aan te raak en vir hulle te bid.
Gebed
Here Jesus, dankie vir U liefde. Ek wil vandag vir iemand U liefde wys. Sal U vir my ’n geleentheid wys waar ek dit kan doen? Amen.