Genesis 12:1-3
”Die Here het vir Abram gesê: “Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys. Ek sal jou 'n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou 'n man van groot betekenis maak, en jy moet tot 'n seën wees. Ek sal seën wie jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.”“
Om oor te gesels en te dink
Seën kan nie net oor jouself gaan nie. Wanneer God jou seën, kan ons nie anders as om ons seën met ander te deel nie. Ons moet nie vaskyk in wat ons nie het nie, maar wat ons wel het en hoe ons dit kan deel. Ons seëninge is nie altyd geld en goed nie. Ons kan ons tyd en gawes met ander deel om vir hulle tot seën te wees.
Dink vir ’n oomblik na oor alles waarmee die Here jou seën en hoe jy dit kan gebruik om dit met iemand te deel.
Sê vir die Here dankie vir die seën wat jy onverdiend ontvang. Ons kan nie God se seën verdien nie. Soos Abram wat dit onverdiend ontvang het, ontvang ons elke dag God se seën.
Mag jy vandag ’n geseënde dag beleef.
Gebed
Here, dankie vir alles waarmee U my seën. Ek wil dit nie vir myself hou nie. Wys my met wie ek dit kan deel. Amen.