2 Korintiërs 8:7-9
”Aangesien julle alles in oorvloed het: geloof, die gawe om julle woord te doen, kennis van God, onbeperkte ywer en ons liefde vir julle, wees dan ook in hierdie liefdeswerk oorvloedig. Ek gee nie ‘n opdrag nie, maar ek wys julle op die ywer van ander om daardeur die opregtheid van julle liefde te toets. Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: hoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kon word.“
Om oor te gesels en te dink
’n Tweede padwyser wat ons in 2024 kan gebruik is: “Om vrygewig te leef soos wat Jesus my leer, sonder om iets terug te verwag.”
Vrygewigheid is die vergete skat van die Nuwe Testament. Dit is ’n lewenswyse. Dit is om jouself te gee. Dit is nie iets wat jy nou en dan doen nie.
Paulus herinner ons dat Jesus ryk was en arm geword het, ter wille van ons, sodat ons Hom kan leer ken.
Ons dink dadelik dat dit beteken ek moet geld gee. Dit kan dit ook beteken, maar mense het ons tyd en aandag meer nodig. Ons moet vrygewig met ons liefdeswerk wees. Mense om jou het jou nodig.
Daar is mense op jou pad waar jy moet stop en stil staan en jou tyd vrygewig deel.
Gebed
Here, ek sukkel om altyd vrygewig te wees. Leer my om te stop en my tyd en liefde met mense om my te deel. Amen.