Lukas 5
5“Meneer,” antwoord Simon, “ons het die hele nag deur geswoeg sonder om iets te vang, maar op u woord sal ek die nette uitgooi.”
VRAE:
- Jesus is besig om mense te leer wanneer hy ‘n skuit sien dryf naby die oewer. Hy klim daarin en leer die mense verder. Wanneer hy klaar is met die menigte gaan hy na Petrus en sê vir hom om weer uit te gaan na die diep waters en die nette te laat sak.
- Petrus is al lank ‘n visserman. Hy weet wat hy doen. Die werk is fisies intensief en moeilik. Hy was alreeds heelnag besig om te werk. Hy was waarskynlik baie moeg en reg om te gaan rus. Wanneer Jesus vir hom vra om nog ‘n keer te gaan, kon hy maklik moeilik wees en weier om dit te doen. Tog vertrou hy vir Jesus. Hy vang so baie vis dat sy nette besig is om te skeur en hy vriende moes nader roep om te help.
- Hierdie hele ervaring het vir Petrus die kans gegee om skoongemaak te word van sy eie idees en oortuigings waarop hy normaalweg staatmaak. Watter idees en gedagtes huldig jy oor jou werk, jou huisgesin en jou naastes wat Jesus dalk in hierdie feestyd sou wou aanspreek? Waarom dink jy dien hierdie idees jou nie werklik nie? Hoe sou dit lyk indien jou lewe skoongewas was, van hierdie idees en gedagtes?
- Petrus het die kans gehad om gesuiwer of verfyn te word. In die proses om gesuiwer te word, gaan mens deur moeilike omstandighede waar jy gereduseer word tot ‘n hoër gehalte karakter. Watter ervarings in jou lewe, is besig om jou te suiwer en verfyn? Waarom dink jy is dit nodig om deur hierdie proses te gaan? Hoe gaan dit jou getuienis oor jou geloof help, deur hierdie proses enduit te sien?
- Petrus het die kans om nuwe lewe te bring fisies deur die kos wat hy nou kan voorsien, maar ook in die nuwe bediening wat die Here nou vir hom gee. Hoe gee God vir jou ook nou die geleentheid om nuwe lewe in die mense en bediening waar jy is te bring? Hoe lyk dit as jy werklik lewe bring vir mense om jou? Watter bediening plaas die Here op jou hart?
DOEN DING
- Indien dit moontlik is, maak ‘n vuur buite waar julle kan sit en gesels. Indien dit nie moontlik is nie sit ‘n YouTube video aan wat vertoon soos ‘n kaggel. Sommige het ook die klank van ‘n werklike vuur.
- Terwyl julle om die vuur sit. Deel met mekaar hoe die hitte van die vuur help om skoon te maak, nuwe lewe voort kan bring en metale suiwer. Hoe het die afgelope jaar dit met julle gedoen? Skoon gemaak, nuwe lewe gebring en gesuiwer?
GEBED:
Here, vergewe my wanneer ek vir U teenkanting gee in my suiweringsproses. U is altyd goed. Here, ek kan op U vertrou. Here, ek wil saam met U stap deur die Kersseisoen. Here, wys vir my wat U wil is vir my in hierdie tyd. Here, ek weet ek is gemaak vir soveel meer as wat ek vir myself kan droom. Here, ek weet dit. Here, vergroot my kapasiteit. Here, help my groei.
Amen