Lees Psalm 136
1 “Loof die Here, want Hy is goed. Aan sy liefde is daar geen einde nie. 2 Loof die oppermagtige God. Aan sy liefde is daar geen einde nie. 3 Loof die magtigste van alle maghebbers. Aan sy liefde is daar geen einde nie.” (Ps 136:1-3 AFR83)
Om oor te gesels:
Hierdie Psalm se refrein is: “aan sy liefde is daar geen einde nie”. Dit is ook ‘n geskiedenis psalm en vertel die geskiedenis van Israel terwyl die refrein alles saam bind.
Die liefde hier sluit ook God se genade, getrouheid en voorsiening in.
God is net alleen ons Skepper nie, maar ook ons Verlosser.
Ons mis partymaal God se liefde as ons nie vir ‘n oomblik stilstaan en terugkyk nie. Vandag is ‘n goeie dag om oor jou lewe terug te kyk. Skryf jou eie psalm en as jy aan iets dink, skryf dit neer en dan hierdie refrein: “aan sy liefde is daar geen einde nie” na elke gebeurtenis in jou lewe. Bid dan hierdie psalm van jou.
Gebed
Here, dankie dat U liefde onuitputlik is en nooit ophou nie. Dankie dat dit elke môre nuut is. Ek vertrou U met my lewe. Amen.