Stilstaan oomblikke – Op pad na die kruis
Teksvers:
Toe het Hy van die tafel af opgestaan, sy bokleed uitgetrek en ‘n handdoek gevat en om Hom vasgemaak. Daarna het Hy water in ‘n wasskottel gegooi en begin om sy dissipels se voete te was en dit dan af te droog met die handdoek wat Hy omgehad het. Toe Hy by Simon Petrus kom, vra dié vir Hom: “Here, gaan Ú mý voete was?” (Joh 13:4-6)

Identifiseer:
Jesus wys Sy liefde prakties deur aksie te neem en Sy dissipels se voete te vas. Dit was die mees ongewone ding om te doen. Selfs Joodse slawe kon weier om iemand se voete te was, maar Jesus dien almal. Petrus voel verontwaardig en protesteer. Ons kan onsself in Petrus raak sien.

Oriënteer:
Ons het ook soms soos Petrus verskonings oor hoekom ons dink dat die Here nie vir ons iets kan doen nie. Ons dink dat ons self kan regkom, maar Jesus wys vir Petrus dat dit nodig is dat Jesus ook sy voete was.

Bely:
Ek kom bely dat ek soms verskonings gebruik om nie te doen wat die Here vra nie of dat ek dink dat ek nie waardig is dat die Here iets vir my doen nie. Ek besef dat ek dit moet laat gaan en toelaat dat die Here juis ook in my en met my werk.

Bid:
Here, ek wil nie verskonings gebruik en nie deel hê aan wat U doen nie. Help my om oor te gee, sodat U in my kan werk. Amen.

linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram