Anonieme Godstorie
Ek vertel my Godstorie want ek weet daar is iemand wat vandag nodig het om te hoor daar is hoop. Maak nie saak waardeur jy op die stadium gaan of wat jy op die stadium voel nie. Jy is nie alleen nie. Jy sien dit dalk nie nou nie maar die Here is daar by jou en hou jou styf vas en huil saam jou. Mag die Here verheerlik word deur my storie.
Ek onthou nog die presies die dag toe 2 mans aan ons deur kom klop het en my ma kom se het my pa is dood in n motorongeluk. Ek was 7 en dit is hier waar my storie begin.
4 Jaar later trou my ma met n man wat aanvanklik as n liefdevolle, ondersteunende en gelowige man voorkom wat haar en ons 4 kinders op sy hande dra. Ek was 11. Kort na die troue kom die ware monster egter te voorskyn. Ek sal vir die gedeelte na hom verwys as "die oom" aangesien dit nou nog moeilik is om sy naam te noem. Die atmosfeer in die huis het drasties verander na een waar almal geleef het in angs, spanning en vrees. Ons het nooit geweet wat om te verwag of hoe erg die dag sou wees nie. Die mishandeling was in alle vorme: fisiek, emosioneel en seksueel.
Die oom het my so afgebreek dat daar net skaamte, verweit en woede oorgebly het. Die Here was ver en ek het geglo dat Hy my verwerp het en die hel onvermydelik vir my was. Ek het myself geisoleer van alles en almal en die alleenheid was ondraagbaar. Een aand het hy my ma so hard teen n bed vasgegooi dat hy haar ribbes gekraak het en sy hospitaal toe gejaag is. Ek was alleen saam hom in die huis en hyt my gevra of hy moet gaan en ek het gese ja. Ek was 14.
My ma skei die oom en hys uit ons lewens maar tog kan sy teenwoordigheid oral gevoel word. Ek probeer die leemte in my siel vul met drank, sigarette en partytjies. Alles behalwe met die dinge van die Here. Ek gee Hom die skuld vir alles wat met my gebeur het en in my 1ste jaar probeer ek vir die 1ste keer selfmoord pleeg. Maar ek en die Here se horlosies werk nie op dieselfde tyd nie en ek oorleef maar binne is ek dood en so verskriklik kwaad vir Hom.
3 Jaar hierna ontmoet ek my man trou en het pragtige kinders saam. Vir n ruk lank voel dit asof dinge okay gaan. Ek kry dit goed reg om my ware gevoelens te onderdruk. Gaan kerk toe, lees bybel, bid(teen die dak vas) Ek dra my masker goed maar mens kan nie die Here flous nie.
Een vrydagmiddag stap ek na my badkamer en drink n oordosis pille. Ek word betyds gekry maar is vir drie dae in intensief en n week in die hospitaal. In Denmar begin dinge in my lewe verander. Ek word op medikasie gesit en ek sien my sielkundige een maal n week en doen intense terapie saam haar. Sy word my anker wat in my bly glo. Sy praat saggies met my, gee nooit moed op met my nie en help my deur my seer. Sy dwing my so te se ook om betrokke te raak by iets. Ek kies die kerk want diep binne my dink ek het ek geweet dis al waar ek werklik vrede sou kon vind. Hier ontmoet ek vir Anandie en begin ons n pad saam stap. Sy oordeel my nooit nie, se nie ek mag nie dit se of so voel nie. Sy luister en vertel my die Here het my lief. Ek hoor haar maar glo dit nog nie werklik nie. Ek twyfel en vind dit moeilik om te glo ek verdien om gered te word.
Weereens probeer ek my eie lewe neem en weereens mislik ek. Die Here is in beheer nie ek nie! Na n leeftyd se seer begin ek glo ek verdien om gelukkig te wees. Ek begin weer voel. Sien die mooi raak in die natuur, in my kinders se gelag en werk sagter met myself. Ek raak betrokke by die kerk en besef ek het iets om te bied vir ander. Met die hulp van Anandie kry ek selfs die moed om te vergewe op n manier wat vir my sin maak en goed is. Daars n rustigheid in die stilte nou. Ek glo die Here wil my nog gebruik. Ek vrees nie meer die donkerte nie. Ek weet daar sal nog moeilike dae kom dis onafwendbaar. Maar ek sien kans daarvoor met my kosbare familie en die mense in my lewe wat my ondersteun en vir my omgee. Ek is nie meer alleen nie, my verlosser, my Here my Pa is by my en beskerm my en het my Lief.