Dinsdag 10 Augustus

Dinsdag, 10 Augustus 2021
Vreugde in ‘n Tyd van Verlies

Filippense 1:6
Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.

Om oor te gesels of te dink:

  • ‘n Tweede punt wat vir Paulus vreugde gee in ‘n tyd van verlies is die vertroue dat God niks begin wat God nie ook klaarmaak nie. Wanneer God werk in ons begin gaan Hy nie halfpad opgee nie. Daarom wanneer Hy begin om met ons ‘n pad te stap is God “all-in”. Selfs al voel dit vir ons asof ons halfpad alleen stap. Asof ons êrens op die pad begin om aangeval te word van al die kante af, God gee nie op nie en laat ons nie alleen nie.
  • Glo jy dat God saam met jou ‘n pad begin stap het? Wat het God in jou begin? Waarheen is Hy saam met jou op pad? Deel jou hart met die Here.
  • Voel dit asof die Here êrens jou gelos het? Voel dit asof God nie meer met jou op die pad is nie? Voel dit asof jy aangeval word op jou eie? Wat laat jou so voel? Deel jou hart met die Here.
  • Hoe kan hierdie belofte en herinnering van Paulus jou weer moed gee op hierdie dae en in hierdie oomblikke wanneer jou emosies vir jou jok? Dink aan ‘n praktiese oefening wat jy kan doen om jou te herinner aan God se nabyheid in hierdie oomblikke en gevoelens.

Gebed:
God van my lewe, Jesus, Soms kan ek byna die onheilspellende druk van die donkerte se teenwoordigheid rondom my aanvoel. Ek herken die vyand. Of dit is om my te ontmoedig, my aandag af te trek, my in die versoeking te lei of my oë van U af te neem – hy is altyd in die omtrek. Here, ek het U bo-natuurlike krag nodig om sterk te staan en nie in te gee nie. Fisiese krag sal nie help nie, want U het gesê dat die wapens wat ons in die stryd gebruik, anders lyk as dié van die wêreld. As gelowiges, kan ons wapens die vyand se leuens en aanslae verslaan. Hierdie bo-natuurlike wapens het U vir ons gegee.
Verhoed asseblief dat Satan my invloed en my bestaan wil vernietig – in U kosbare Naam, Jesus. Help my om nie moedeloos te raak in moeilike tye nie. Wanneer ek moeg en swak is, is U sterk, Here. U is my enigste bron van hulp. Ek kan nie die stryd sonder U aanpak nie.
Leer my om te bid en op U te vertrou om dít wat ons hulpeloos laat voel, te oorwin. Bewaar my van blootstelling wat my broos en hulpeloos laat voel.
Ek glo dat U die mag van die vyand verslaan het deur U kruisiging en opstanding!
Maar my vyand bly opdaag – deur leuens te fluister en die waarheid te verdraai. Hy gee nooit op nie…Ek verklaar dat die duiwel en sy volgelinge, leuenaars is, Here.
Ek aanvaar vandag U Woord en die Waarheid dat U in my woon. Ek glo dat U groter is as enige vyande wat die wêreld wil oorneem. U Here, U Woord en Gebed, is my geheime wapens! Ek behoort aan U en dit vul my met kragtige Godgegewe selfvertroue!
Ek wil die geestelike wapenrusting wat U my gee, elke dag aantrek. Help my om ander ook te verdedig teen die vyand se vurige aanslae. Niemand of niks kan my uit U hand ruk nie.
Versterk my geloof, Here. Vergewe my sondes, sodat ek skoon kan wees in U geregtigheid. Maak my dapper, sodat ek sterk kan staan teen die geestelike oorlogvoering in my lewe en in ons wêreld. Gee my asseblief U wysheid en onderskeidingsvermoë, sodat ek nie onverhoeds betrap word nie. Saam, Here, sal ons oorwin, want inderwaarheid het U reeds oorwin! Elke knie sal buig voor U magtige Naam.
Amen. (Rebecca Barlow Jordan)

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika