Dinsdag 10 Mei 2022

Psalm 137:4
_ 4Hoe kan ons die lied van die Here sing in 'n vreemde land?_

Genesis 1:1-3
_ 1In die begin het God die hemel en die aarde geskep. 2Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef. 3Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig._

Om oor te gesels of te dink:

  • Toe die Israeliete in Babilonië was is hulle gespot oor hulle geloof in God. Die Babiloniërs kon nie verstaan hoe hulle ‘n God kon dien wat toelaat dat daar soveel swaarkry met sy volk gebeur nie. Die Israeliete het self daarmee swaar gekry. Toe hulle begin dink oor hulle geloof en die God wat hulle dien, begin hulle dit in 5 boeke saamvat. Die uiteinde van hulle antwoord aan die Babiloniërs, hulleself en die wêreld is die vorming van die Pentateug, die eerste vyf boeke van die Bybel. Wanneer hulle in sak en as gekeer is, nie verstaan waarom hulle deur groot hartseer gaan nie, herinner hulle hulleself aan wie God werklik is.
  • Vir die Jode was God, die God wat van die begin af daar was. Die God wat alles inisieer. Die God wat in beheer is. Die God wat mag het oor alles. Die God wat lig spreek in donker. Die God wat spreek, en skep. Wie is God vir jou?
  • Skryf vandag deur die dag jou eie geloofsbelydenis oor wie God is. Gebruik dit as bevestiging wanneer dit donker word en jy moedeloos word om jou te herinner, wie jy dien.

Gebed:
Here, ons Here, hoe groot is U nie; U word oor die hele aarde geprys! Alles wat U in die hemelruim gemaak het, vertel hoe groot U regtig is. Uit die blou lug klink simfonieklanke wat aan U lof bring. Deur swak en klein mensies word u groot krag hier op aarde uitgebasuin, deur ’n baba wat geluidjies maak of ’n pap babatjie in ’n ma se arms. U groot krag laat almal wat met U probeer baklei gou-gou stil word. As ek opkyk na alles wat U in die hemelruim gemaak het, al die planete, die maan, melkwegstelsels en miljoene sterre, snak ek na my asem as ek sien hoe piepklein die mens regtig is. Hoekom gee U vir hom om? En tog, hoeveel gee U nie om vir hierdie piepklein mensie nie! Dink net: U sorg vir hom. Hy is vir U baie belangrik. U het hom so belangrik gemaak dat hy amper soos U is; U behandel hom soos ’n koning; U gee ’n baie hoë posisie aan hom. U wil hê dat die mens oral moet wys hoe groot U is. Hy is mos u verteenwoordiger. Hy regeer oor die hele aarde. U laat hom soos ’n groot leier oor u handewerk regeer. Hy moet vir alles sorg wat U gemaak het. Veral die diere is van hom afhanklik - die vee, wilde diere, voëls en visse. Here, ons Here, hoe groot is U nie; U word oor die hele aarde geprys! Amen. (Psalm 8)

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika