Dinsdag 11 April
Johannes 20:3-10
“Petrus en die ander dissipel het toe uitgekom en na die graf toe gegaan. Die twee het saam begin hardloop, maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en eerste by die graf gekom. Toe hy vooroor buk, sien hy die doeke lê, maar hy het nie ingegaan nie. Ná hom het Simon Petrus ook daar aangekom, en hy het in die graf ingegaan. Hy sien toe die doeke daar lê, ook die doek wat om Jesus se kop was. Dié doek het nie by die ander doeke gelê nie, maar was eenkant afsonderlik opgerol. Daarna het die ander dissipel, wat eerste by die graf gekom het, ook ingegaan, en hy het dit ook gesien en geglo. Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie. Daarna het die dissipels weer huis toe gegaan.”
Om oor te gesels en te dink
Maria Magdalena het vir Petrus en Johannes gaan roep, toe sy besef dat graf oop was. Johannes, as skrywer van die Evangelie, verwys indirek hier na homself as die ander dissipel. Hy sien die doeke, maar gaan nie in die graf in nie. Toe Petrus daar aankom, het hy ingegaan en ondersoek ingestel. Johannes het toe eers ingegaan, dit weer gesien en geglo.
Dit is duidelik dat Johannes en Petrus wou seker maak dat wat hulle sien die waarheid is na wat Maria Magdalena vir hulle kom vertel het. Hulle het geglo dat Jesus opgestaan het, alhoewel hulle nog nie die volle implikasies daarvan besef het nie. Hulle het huis toe gegaan en probeer sin maak van wat gebeur het.
Soms is ons ook onseker oor wat besig is om te gebeur en soek ons na bewyse. Dit is nie altyd moontlik nie. Tog het Petrus en Johannes besef daar is iets meer en geglo.
Gebed
Here, ons wil ook partymaal alles verstaan voor ons glo, maar besef dis nie altyd moontlik nie. Help my om U steeds te vertrou, al maak alles nie sin nie. Amen.