Stilstaan oomblikke - Op pad na die kruis
Teksvers:
“Simon, Simon!” het Jesus gesê. “Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.” (Lukas 22:31-32)
Identifiseer:
Lukas vertel in sy Evangelie dat toe dit bekend word dat Petrus Jesus gaan verloën, Jesus vir Petrus gebid het. Jesus het gebid dat sy geloof hom nie sal begewe nie en dat as hy weer tot inkeer gekom het, hy die ander mense sal versterk.
Oriënteer:
Hierdie is ‘n bemoedigende vers om te weet dat Jesus vir jou en my bid. Wanneer ons deur moeilike goed gaan, bid Jesus dat ons geloof ons nie sal begewe nie. Selfs al sou dit gebeur, los Jesus nie Petrus nie, en ook nie vir ons nie.
Bely:
Ek bely dat ek U nie altyd bely nie. Ek is soos Petrus wat makliker praat as doen. My geloof wankel soms. Ek weet nie wat ek altyd kan bely nie. Ek bely dat U die Here is wat my nooit alleen los nie.
Bid:
Here Jesus, dankie dat U vir my bid. Help my dat my geloof my nie sal begewe nie. Ek wil U volg, selfs al is dit moeilik. Amen.