Titus 3:8
8Dit is 'n betroubare woord. Daarom wil ek hê dat jy van hierdie dinge met groot nadruk moet getuig, sodat dié wat tot geloof in God gekom het, hulle op goeie werk kan toelê, werk wat goed en nuttig is vir die mense.
Om oor te gesels of te dink:
- Om te getuig, beteken om dit wat jy self beleef het, gesien het, gehoor het, geruik het, geproe het, gevoel het vir ander te vertel en te wys. Dit beteken dat ander mense deur jou, dieselfde belewenis kan hê as wat jy gehad het. Soms is woorde nie genoeg nie. Soms moet jy met jou lyf en menswees ook dit beliggaam waarvan jy getuig. Genade is een van hierdie belewenisse. Dit is nie iets wat so maklik is om te verstaan as jy net hoor daarvan nie. Mens moet dit beleef.
- Daarom sê Paulus vir Titus, getuig deur goeie werke te doen. Hierdie nuttige belewenisse wat mense dan ervaar, wys vir hulle wie God is. As hulle ook God se goedheid en liefde vir die mensdom deur jou beleef, sal hulle meer verstaan en ook nader aan God wil wees. Die werke word gedoen, nie omdat ons self oulik is of iets wil kry daaruit nie, maar omdat dit eerste genade is om te kan doen, en tweede omdat dit eer aan God betoon.
- Wat is nuttig vir jou? Watter dade help jou om meer van God te ontdek en te leef? Hoe help ander se optrede jou die meeste, om God te beleef, self te ontmoet en ook te dien?
- Wat dink jy is nuttig vir ander mense om jou? Wat dink jy het hierdie wêreld nodig, wat goed en liefde teenoor almal bewys? Hoe kan jy dit beliggaam? Wat keer jou om dit te doen? Deel jou hart met die Here.
Gebed:
Here van my lewe,
Ek besef dat die manier waarop ek leef ander nader en verder van U kan dryf. Ek besef dat ek te veel kere tussen U en mense staan. Help my Here om meer van U genade te beleef, sodat ek meer van dit kan uitleef. Here, help my asb. om ‘n kanaal van U genade te wees. Here, help my om nuttige dinge te doen wat eer bring aan U en ander help om U genade te beleef. Dankie dat ek dit kan vra Here.
Amen