Handelinge 11:19-21 (NAV)
19 Deur die vervolging wat na Stefanus se dood ontstaan het, is die gelowiges uitmekaar gejaag. Party van hulle het na Fenisië, Siprus en Antiogië toe gegaan, maar hulle het die woord aan niemand anders as net aan Jode verkondig nie. 20 Onder die vlugtelinge was daar sekere mense wat van Siprus en Sirene afkomstig was en wat in Antiogië gekom en daar ook aan die Griekssprekendes die evangelie dat Jesus die Here is, verkondig het. 21 Die Here het die gelowiges gehelp, sodat daar baie mense tot geloof gekom en hulle tot die Here bekeer het.
Die kerk in Antiogië, ’n missionale kerk, het opregte evangelisasie gedoen. Die mense van Siprus en Sirene waarvan ons hier lees, wat anoniem in die geskiedenisboeke opgeteken is, kon eenvoudig nie die goeie nuus slegs met mense soos hulle deel nie. Hulle het die vermoë gehad om mensgemaakte grense oor te steek, om in verhouding te tree met mense waarop hulle volk voorheen neergekyk het en om in verstaanbare taal en metafore die goeie nuus van Jesus met hulle te deel. Let op, Lukas skryf dat hulle boodskap eenvoudig was “dat Jesus die Here is”.
Die gevolg hiervan was dat baie mense tot geloof gekom het en hulle tot die Here bekeer het, omdat die Here die gelowiges gehelp het!
Pierre van Ryneveld Geloofsfamilie is ’n missionale kerk, en daarom moet ons ook opregte evangelisasie doen. Ons is die draers en verkondigers van die goeie nuus, en ons beweeg elke dag tussen mense wat goeie nuus nodig het!
Neem ’n oomblik en bid hieroor. Vra die Here om jou te help om die goeie nuus te deel met mense, en om ons te help om waarlik missionaal te wees.
“The gospel is this: We are more sinful and flawed in ourselves than we ever dared believe, yet at the very same time we are more loved and accepted in Jesus Christ than we ever dared hope.” Tim Keller