Dinsdag 18 Januarie

Jeremia 31:31-34
“31Daar kom 'n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda 'n nuwe verbond sal sluit. 32Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorvaders gesluit het toe Ek hulle aan die hand gevat en uit Egipte laat trek het nie. Hulle het daardie verbond wat Ek met hulle gesluit het, verbreek al was Ek getrou aan hulle, sê die Here. 33Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees. 34’n Man sal nie meer vir sy buurman of vir sy broer voorhou: “Jy moet die Here dien” nie, want almal sal My dien, klein en groot, sê die Here. Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie.”

Om oor te gesels en dink:
Ons staan by nog ‘n belofte wat Jeremia ontvang, stil. Daar kom ‘n tyd sê die Here dat Hy ‘n nuwe verbond/belofte gaan gee. Dit is God wat weer die inisiatief neem om met sy volk en ons oor te begin. Dis ‘n nuwe verbond waarmee God Hom aan ons verbind. Hy sal Sy woord op ons harte skryf en dit in ons gedagtes vaslê. Die wet is nie meer op kliptafels nie, maar in ons harte en vestig ‘n intieme verhouding met Hom. Hy is die Een wat Sy woorde aan ons bekend maak soos ons tyd saam met Hom spandeer.
Ons moet moeite doen om Sy Woord, die Bybel, te lees sodat ons Hom kan ontmoet en dat Sy gedagtes ons gedagtes word.
Wanneer ons so in afhanklikheid leef, ervaar ons hierdie beloftes. Ons kan met vrymoedigheid leef want ons leef uit God se vergifnis omdat Hy ons oortredings vergewe en nie meer aan ons sondes dink nie.

Gebed
Here God, dankie dat U altyd weer oorbegin en die inisiatief neem. Kom skryf U Woord op my hart en gedagtes, sodat ek U beter leer ken. Mag ek vandag U liefde opnuut beleef. Amen.

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika