Lukas 10:39
39Sy het ‘n suster gehad, Maria, wat aan die voete van die Here gaan sit en na sy woorde geluister het.
Om oor te gesels of te dink:
- Maria het ook Jesus gasvry ontvang. Sy het Jesus gedien deur by Sy voete te sit en luister. Sy het die koninkryk ontvang. Sy het in verhouding verdiep. Ons sien later in Johannes 11:32 hoe sy by Jesus se voete neerval en haar uitstort na haar broer se dood. Sy kan getuig en bely dat sy glo Hy sou haar broer kon red. Ons sien hoe sy by Jesus se voete kniel en Hom sal in Johannes 12:3 met duur parfuum, omdat sy Hom erken as haar Heer. Die plek by Jesus se voete is gewoonlik een vir die manne beskore. Maria neem dit in omdat Jesus vir haar spasie maak. Hy breek grense af. Sy koninkryk is vir almal bedoel.
- Hoe lyk jou tyd by Jesus se voete? Maak jy daagliks tyd om Hom te ontmoet? Is jou verhouding ook besig om te groei soos Maria se verhouding gegroei het? Hoe getuig jou lewe daarvan as jy vir jou naaste mense sou vra?
- Hoe is jy besig om die koninkryk te dien, as gevolg van jou tyd by Jesus se voete? Hoe getuig jou lewe van meer geduld, vrede, verdraagsaamheid, liefde, deernis, vergifnis? Kan ander mense die goeie nuus van die evangelie in jou raaksien?
- Vra dat die Here jou tyd by Jesus se voete sal transformeer, deur jou hart te verander. Vra dat Jesus vir jou opnuut sal laat uitsien na hierdie kosbare tyd saam met Hom.
Gebed:
Here, my tyd by U voete is ongelooflik kosbaar. En in vandag se gejaag maak ek dalk te min tyd daarvoor. Help my om meer van ‘n prioriteit daarvan te maak. Help my om my hart na U te draai. Help my om meer van U wil en minder van my eie ego te volg. Here, mag U koninkryk kom. Mag ander U raaksien wanneer hulle na my kyk.
Amen.