Romeine 8:1, 15-16
“Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.”
“Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.”
Om oor te gesels en dink
God het ons vrygespreek in Christus Jesus en daarom staan ons nie meer onder die oordeel van God nie. Meer nog: Hy het ons Sy Gees gegee toe ons Sy kinders geword het. Ons hoef nie meer in vrees te lewe nie. Ons het vrye toegang tot die Vader. Dit is ’n intieme verhouding waarin ons God kan aanspreek as “Abba!” – die Arameese woord vir Pa of Pappa. God is vir ons ’n liefdevolle Vader!
Dink daaroor na dat jy enige tyd na jou Hemelse Vader kan gaan. Jy is altyd welkom, want jy is Sy kind en Hy maak tyd vir ons elkeen. Jy kan jou behoeftes na Hom toe bring.
Gebed
Abba, Vader, dankie dat ek enige tyd kan bid en met U kan praat. Dankie dat ek U kind kan wees. Dankie dat U vir my lief is en dat ek nie onder U oordeel staan nie. Ek het U lief. Amen.