Spreuke 1:8-9
“My seun, jy moet luister na die onderrig wat jou vader jou gee; moenie wat jou moeder jou leer, verontagsaam nie: dit sal jou lewe versier soos 'n krans jou kop en 'n kettinkie jou hals.”
Om oor te gesels en dink
Wysheid vind in verhoudings plaas: of jy deel wysheid of jy ontvang wysheid. Dis ‘n keuse om jouself oop te stel om wysheid te ontvang. Ons volg maklik ons eie kop en wil soos kinders sê: “ek sal self…”
Die boek Spreuke wys ons dat dit ‘n dwase manier is om te lewe.
Daar is mense wat ‘n impak op jou lewe maak. Ons moet onsself oop stel en luister as hulle met ons praat, veral as hulle ons wil help. Ander sien soms makliker wat ons nodig het.
Daar is ook mense in wie se lewe jy ‘n invloed het. Dit vra wysheid om hulle te help om wys te lewe. As ons dit so doen, dra ons by tot hulle lewe en is dit mooi en sigbaar soos ‘n krans en kettinkie.
*Dink aan die mense wat jou help om wys te leef. Sê vir hulle dankie vir hulle rol in jou lewe.
*Wie help en beïnvloed jy om wys te lewe?
Gebed
Here, dankie dat U altyd wysheid gee. Dankie vir mense wat my help om wys te leef. Mag ek vandag wys leef en mense om my beïnvloed om wyser te leef. Amen.