Jesaja 43:2-3
“As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder. Ek gee Egipte as losprys vir jou, Kus en Seba in jou plek.”
Om oor te gesels of dink
Jesaja bemoedig die volk wat swaar kry in ballings met die belofte van die Here. As hulle deur moeilike situasie moet gaan, soos water en vuur, sal die Here God by hulle wees. Dit word gestaaf op grond van wie die Here is. Hy is nie alleen die Here nie, maar ook die Heilige Redder.
Uit Sy liefde vir elkeen wat Hy op die naam geroep het, gee Hy hierdie versekering.
Ons kan weet dat wanneer ons deur moeilike situasies gaan, die Here by ons is. Ons wil hê dat Hy dit moet keer, maar Hy is saam met ons as ons deur dit moet gaan.
Kom ons fokus op wie God is, eerder as om op die probleme wat ons beleef.
Neem ’n oomblik van stilte
Hoe kan jy vandag aanpak met die wete dat die Here by jou is?
Gebed
Here, U is die Skepper en die Heilige, my Redder. Ek vertrou vandag aan U toe. Mag ek weet dat U by my is, wat ek ook al moet hanteer vandag. Amen.