Nehemia 1:5-6, 8, 11
“Ek het gesê: “Ag, Here, God van die hemel, groot en ontsagwekkende God wat u verbond en u troue liefde handhaaf teenoor dié wat vir U liefhet en u gebooie gehoorsaam, luister tog, gee tog ag op die gebed wat ek, u dienaar, sonder ophou tot U bid.
“Ek bid vir u dienaars, die Israeliete, ek doen belydenis van die sondes wat ons teen U begaan het. Ook ek en my familie het gesondig.
“Dink tog aan die belofte wat U aan u dienaar Moses gemaak het…
Ag, Here, luister tog na die gebed van u dienaar en na die gebed van u dienaars, hulle vir wie dit 'n vreugde is om u Naam te eer. Laat my tog voorspoedig wees met wat ek vandag wil doen. Laat hierdie man my simpatiek gesind wees.”
Ek was die koning se skinker.
Om oor te gesels of dink:
Nehemia pleit by die Here. Sy gebed bestaan uit ‘n lofprysing, skuldbelydenis en smeking. Hy erken God se heiligheid en almag. Hy hou vas aan die verbond wat God met sy mense gesluit het. Hy bely ook sy eie sonde en dit wat die ander mense gedoen het.
Hy herinner die Here aan sy beloftes en vra dat die Here hom sal help. Hy het geweet hy moet vir die koning gaan vra en daarom bid hy dat die koning hom simpatiek sal wees.
Hierdie gebed van Nehemia herinner ons dat ons biddend sal leef. Hy weet wat hy moet doen, tog vra hy in afhanklikheid dat God hom sal help.
Daar is dinge waarvoor jy ook vandag bid.
Mag jy weet dat die Here jou hoor.
Gebed
Here, ek kom vandag weer na U toe en herinner U aan U beloftes. Ek kom gee myself en vra dat U die pad sal wys. Ek bid vir…
Amen.