Dinsdag 26 September 2023

Jona 4:5-8
5Jona is toe uit die stad uit. Hy het oos van die stad gaan sit en vir hom 'n skerm gebou. Hy het daaronder in die skaduwee gaan sit om te sien wat in die stad gebeur. 6Toe laat die Here God 'n komkommerplant opkom, en dit het bo-oor Jona gerank om skaduwee te gee vir sy kop en om hom van sy misnoeë te bevry. Jona was baie bly oor die komkommerplant. 7Die volgende môre met dagbreek laat God toe 'n wurm kom, en dit het aan die komkommerplant gevreet, sodat dit verdroog het. 8Toe die son opkom, het God 'n skroeiende sterk wind uit die ooste laat waai. Die son het vir Jona op sy kop gesteek, en hy het baie swak geword en gewens om maar liewer te sterf. Hy het gesê: “Dit is vir my beter om te sterf as om te lewe.”

VRAE:

  • Jona is besig om sy ongelukkigheid met die Here te beklemtoon. Hy is kwaad vir God, omdat hy God so goed ken. Hy weet God is ‘n God wat barmhartig is, liefdevol, vinnig om te vergewe en ryk in genade. Jona se probleem daarmee, is dat dit vir mense gegun word waarvan hy nie hou nie. God gebruik die komkommerplant om vir Jona te probeer verduidelik waarom God ook vir die stad van Nineve omgee.
  • Hoe reageer jy wanneer iemand iets wegneem van jou, wat vir jou baie kosbaar is? God verduidelik vir Jona dat sy hartseer en woede oor die plant, dieselfde sou wees as God se hartseer en woede oor ‘n groot stad vol mense en diere wat verlore sou gaan as gevolg van hulle eie sondes. Die feit dat hulle opreg berou het, gee God vreugde. Dit is vir God goed om die mense te kan vergewe.
  • Wat kan ons by Jona leer oor die verbygaande natuur van dinge wat vir ons gemak gee? Is daar enige iets in jou lewe wat jou gemak gee of jou lewe makliker maak, waaroor jy ook baie hartseer of kwaad sou word, indien dit weggeneem word uit jou lewe? Wat kan jy daaroor leer?
  • Hoe kan jy jou fokus skuif vanaf dinge wat tydelik is en net in die kort termyn vir jou vrede en vreugde gee? Hoe kan jy begin fokus op dit wat lang termyn vir die Here saak maak?

GEBED:
Here, help ons om rustigheid en vrede in U teenwoordigheid te vind. Here, help my om op U te fokus. Here, help my om te begin omgee waaroor U omgee. Here, help my om nie net op my eie gemak en vreugde te vind nie. Here, help my om meer om te gee oor mense, hulle verhouding met U en die genade wat hulle ook benodig. Here, mag my hart gefokus wees op dit wat die meeste vir U saak maak.
Amen

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika