Openbaring 1:4
“Van Johannes. Aan die sewe gemeentes in die provinsie Asië. Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde.”
Om oor te gesels of dink
Johannes begin sy brief met ‘n seëngroet wat fokus op wie God is. Die Boodskap vertaal dit so: “Ek groet julle met die wens dat God vir julle alles sal gee wat julle nodig het, of julle dit verdien of nie. Mag julle lewe van God se vrede oorloop. Dit is die God wat nou by ons is, wat nog altyd daar was en ook in die toekoms saam met ons sal wees.”
Ons vergeet soms wie die God is wat ons aanbid. Johannes herinner ons dat Hy die Een is wat op die troon sit. Die Heilige Gees is by Hom. Jesus Christus is die heerser oor alles omdat Hy opgestaan het uit die dood. Hy is die Een wat nooit verander en by jou is.
Neem ’n oomblik van stilte
Dink na oor wie God is…
Hoe laat dit jou voel dat God altyd daar is, gister, vandag en môre?
Gebed
Hemelse Vader, dankie dat U altyd daar is. Dankie dat U so goed is. Dankie dat ek U kan aanbid. Mag ek vandag raaksien waar ek besig is. Amen.