1 Petrus 1:15-16
Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig.”
Om oor te gesels of dink
Ons almal ken daardie tee koppies wat in ons ma of ouma se kas gebêre en slegs vir spesiale geleenthede gebruik is. Dit is die heilige tee koppies. Afgesonder vir spesiale gebruik. Wanneer ons in die teks van 1 Petrus 1 lees dat ons heilig moet wees stem dit in een opsig ooreen met die teekoppies: ons is afgesonder vir 'n spesifieke doel. Daar is egter 'n groot verskil, naamlik dat ons gestuur is. Ons is gestuur om liefde en opstanding 'n realiteit in hierdie wêreld te maak.
Neem ’n oomblik van stilte
Ons moenie só bang wees om deur die Heilige Gees gebruik te word nie. Daar gaan definitief 'n paar krap en stamp merke deur die proses kom, maar dit is deel van om gestuur te wees. Die teks herinner ons ook dat ons 'n spesiale doel het (heilig wees), want God is heilig. Dit is deel van ons lewensdoel wat God ons voor geskape het - om 'n verskil deur liefde en opstanding vir mense te bring.
Gebed
Here God, ek wil gebruik word om liefde en opstanding vir ander mense te beteken. Leer my hoe om hierdie pad van dissipelskap te stap en help my om te beweeg en dit te leef. Amen.