Psalm 127
“As die Here die huis nie bou nie, bou die bouers ’n bouval wat enige oomblik inmekaar kan stort. As die Here die stad nie oppas nie, help dit net mooi niks dat die polisie die strate patrolleer nie. Dit is ’n vermorsing van tyd om vroeg op te staan en tot laatnag wakker te bly en jou morsdood te werk. Die Here gee vir almal wat Hy liefhet al hierdie goeie dinge in hulle slaap.” (Psalm 127:1-2 DB)
Om oor te dink en gesels
- Vandag se teks herinner ons dat as die Here nie deel van ons alledaagse lewe is nie, is ons besig met die verkeerde goed.
- Ons leef en werk baie keer so asof alles net van onsself afhang. Amper iets soos wat kinders sê: “ons sal self!”
- Die Psalm is nie teen beskerming en harde werk nie, maar dat ons sal weet die Here die beginpunt is.
- Dit gaan om in afhanklikheid van die Here te leef, sodat die skrywer kan sê die Here gee al hierdie dinge vir hulle wat hom lief het in hul slaap. Die Here gee rustigheid.
- Leef jy in hierdie afhanklikheid van die Here? Hoe kan jy jou werk doen om dit te reflekteer?
- Wat kan jy doen om jouself elke dag hieraan te herinner?
Gebed
Hemelse Vader, ek kom gee vandag my “huis” vir U en vra dat U dit sal bou. Leer my om elke dag in afhanklikheid van U te leef, want sonder U, Here, kan en wil ek nie aangaan nie.
Amen.