Matteus 14:22-23
“Net daarna het Jesus sy dissipels in die skuit laat klim om solank voor Hom uit te vaar na die oorkant toe terwyl Hy nog eers die mense huis toe laat gaan. Nadat Hy die mense weggestuur het, het Hy alleen na die berg toe gegaan om te bid. Toe dit aand word, was Hy daar alleen.”
Om oor te gesels en te dink
Jesus het pas die wonderwerk van die vermeerdering van die brood gedoen (Mat. 14:13-21) en laat sy dissipels solank gaan, terwyl Hy die mense huis toe laat. Jesus wou alleen tyd met die Vader in gebed spandeer. Dit is iets wat ons maklik verby kan lees. Jesus het dit baie belangrik geag om alleen tyd saam met Sy Vader te spandeer. Ons sou kon dink dat dit nodig was nie, maar selfs Jesus bid en spandeer tyd saam met die Vader, ten spyte van ’n besige program.
Ons kan ook by Jesus leer. Kom ons maak tyd om te bid en alleen tyd saam met die Vader te spandeer. Al ken Hy ons deur en deur, is dit noodsaaklik dat ons ons afsonder en ons hart met Hom deel.
Gebed
Hemelse Vader, ek kom bid en vra dat U by my sal wees. Ten spyte van my program, wil ek graag alleen tyd saam met U spandeer. Ek het U lief. Amen.