Matteus 6:9-13
10 laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.
Deuteronomium 17:14-20 beskryf die werk, wese en karakter van ’n aardse koning, nog voordat God se mense hulle eerste amptelike koning ingehuldig het.
’n Koning wat voldoen aan hierdie voorskrifte is een wat regeer met reg en geregtigheid.
Hierdie twee woorde is baie belangrike woorde in die Bybel. Dit dui daarop dat alle mense het wat hulle nodig het, dat niemand kort kom nie, en dat alle mense in regte verhouding met mekaar staan. Waarom is dit so belangrik dat ’n koning se heerskappy dit sal bewerk of tot gevolg sal hê? Want dit is wat elke samelewing na smag, dit sal alle verdeeldheid en haat in ’n samelewing of ’n volk aan bande lê. Dit sal ’n samelewing laat floreer.
Deur die evangelie begin die heerskappy van God sigbaar word in die wêreld. Deur die werk van Jesus begin mense met hulle eie oë sien en met hulle lywe voel hoe dit is om nie meer kort te kom, of in vyandigheid met mekaar en God te leef nie. Dit is goeie nuus! Dit verander lewens. Mense kan nie stilbly daaroor nie, hulle moet daaroor getuig, en deur hulle getuienis begin ander ook hierin glo.
Daarom leer Jesus Sy volgelinge om te bid “laat U koninkryk kom”. Jesus het reg en regverdigheid kom vestig en kom wys, die dissipels gaan later deel raak van hierdie werk, en uituiteindelik gaan almal op aarde dit in sy volheid sien en beleef. Daarom moet ons bly bid dat dit moet kom! Dit is steeds aan die kom, dit is nog nie volledig hier nie, ons is steeds besig met die werk wat Jesus begin het.
Om oor te dink:
“God’s kingdom” in the preaching of Jesus refers not to postmortem destiny, not to our escape from this world into another one, but to God’s sovereign rule coming “on earth as it is in heaven.” N.T. Wright