Matteus 28:9-10
“Skielik het Jesus daar voor die vroue gestaan en hulle gegroet. Hulle het nader gekom, sy voete gegryp en Hom aanbid. Toe sê Jesus vir hulle: “Moenie bang wees nie. Gaan sê vir my broers hulle moet na Galilea toe gaan, en daar sal hulle My sien.””
Om oor te gesels en te dink
Verward en verwondered het die vroue van die graf weg gegaan om vir die dissipels te gaan vertel. Jesus verskyn aan hulle en hulle herken Hom dadelik. Hulle vat aan Hom en aanbid Hom. Jesus groet hulle sonder fanfare. Nie net het hulle gehoor dat Hy opgestaan het nie, hulle sien dit nou self.
Jesus sê ook vir die vroue om nie bang te wees nie. Hulle moet die Goeie Nuus van Sy opstanding gaan vertel.
Jesus vra dat hulle vir die dissipels sal gaan vertel wat hulle beleef het. Ons sien dat Jesus die dissipels vergewe het, al het hulle almal Hom in die steek gelaat. Inteendeel, Hy is nie kwaad nie en gaan hulle nie los nie.
Die vroue was gereed om Jesus te herken toe Hy aan hulle verskyn het. Hulle was bang, maar opgewonde (Mat 28:8).
Gebed
Here, dankie dat U my ontmoet. Ek wil U raaksien waar ek vandag beweeg. Mag ek U teenwoordigheid ervaar. Amen.