Donderdag, 1 Julie

Wees soos Jesus – Oordeel anders.

Johannes 8:4-11
4Hulle het vir Hom gesê: “Meneer, hierdie vrou is op heter daad betrap waar sy owerspel gepleeg het. 5Moses het ons in die wet beveel om sulke vrouens te stenig, maar u, wat sê u?”
6Dit het hulle gevra om Hom uit te lok, sodat hulle iets kon kry waaroor hulle Hom kon aankla. Maar Jesus het gebuk en met sy vinger op die grond geskrywe. 7Toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy regop gekom en vir hulle gesê: “Laat die een van julle wat 'n skoon gewete het, eerste 'n klip op haar gooi.”
8Daarna het Hy weer gebuk en op die grond geskrywe. 9Toe hulle hoor wat Hy sê, het hulle een vir een begin wegloop, die familiehoofde eerste. Jesus is alleen agtergelaat saam met die vrou daar in die middel van die kring mense. 10Toe het Hy regop gekom en vir haar gevra: “Mevrou, waar is hulle? Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?”
11“Niemand nie, Here,” sê sy.
Toe sê Jesus: “Ek doen dit ook nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”

Om oor te gesels of te dink:

  • Jesus oordeel anders as die wêreld. Die Fariseërs kom met ‘n vrou wat skuldig is van ‘n sonde. Sy is gevang. Daar is geen manier waarop sy uit die situasie kan kom nie. Sy weet dit. Die mense wat haar gevang het weet dit. Jesus weet dit. Wanneer daar gevra word om oor haar te oordeel, vra Jesus dat die wat na haar die vinger wys eers na binne moet kyk. As jy self onskuldig is, het jy ‘n voet om op te staan en vingers na ander te wys. Die manier waarop Jesus oordeel is deur nie te oordeel nie. Die manier waarop Jesus oordeel is deur te erken dat ons self eerste genade nodig het. En omdat ons dit verstaan kan ons dit vir ander gun. Want ons het nie ‘n voet om op te staan sonder genade nie.
  • Hoe oordeel jy? Vra dat die Here om jou die waarheid te wys wat in jou hart verskuil is. Oordeel jy soos die Fariseërs? Sien jy alles wat ander verkeerd doen? Wil jy vir die Here alles uitwys waar ander skuldig staan? Of oordeel jy soos Jesus? Oordeel jy dat jy meer skuldig staan as ander, en meer genade nodig het as ander? En kan jy daarom meer genade aan ander gun? Deel jou hart met die Here.
  • In ‘n wêreld waarin baie mense, baie maklik oordeel, hoe sou dit lyk as mense meer soos Jesus sou oordeel? Waarom is dit so moeilik om soos Jesus te oordeel? Waarom is dit so maklik om soos die Fariseërs te oordeel?
  • Waar het jy Jesus se hulp nodig as dit kom by die manier waarop jy oordeel? Hoe wil jy hê moet Hy jou help sodat mense kan sien jy is meer soos Hy as dit hierby kom?

Gebed:
Here van my lewe,
Leer my vandag om meer soos Jesus te wees.
Ek vra dit met die wete dat ek op een of ander manier teen vanaand in hierdie taak gaan faal. Maar Here, ‘n lewe waarin dit die enigste doel is waarheen ek streef, is nie ‘n lewe wat gemors is nie.
Here Jesus, meer van U, en minder van myself.
Amen.

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika