Matteus 6:9-13
10 laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.
Wat is God se wil vir mense; vir ouers, vir jou kollegas, vir ons land se regeerders, vir huweliksmaats, vir moedeloses, vir mense wat Hom nie ken nie, vir jou?
Dink vir ’n oomblik hieroor, en lees dan verder…
Al hierdie vrae is relevant wanneer ons bid vir God se wil om te geskied.
Waarom? Want God is vandag aktief besig om hierdie stukkende wêreld waarin ons leef nuut te maak deur die mense wat dit bewoon.
Ons weet dat hierdie wêreld stukkend is. Ons sien die gevolge van sonde in die wêreld, ons voel die gevolge daarvan aan ons eie lywe, ons eie sonde maak ander mense seer en stukkend.
So wat nou gemaak? Sal ons dit net so aanvaar en vandag elkeen ons neuse in ons eie besigheid hou, of sal ons ons perspektief verander en vir God vra om dit alles om te draai, te verander, nuut te maak en weer Sy wil te laat geskied?
Dit is presies hoekom Jesus wil hê dat ons hierdie sin moet bid, elke keer wanneer ons bid. Sodat ons ’n perspektief sal hê wat maak dat ons die wêreld anders sien, ons eie handelinge in die wêreld anders sien, en sodat ons kan deel raak van wat Hy in die wêreld doen.
Deur die lysie van mense wat ek aan die begin van die stukkie genoem het is God vandag besig om te handel. Deur hierdie lysie van mense wil Hy vandag Sy doel met die wêreld en die mensdom bereik.
Wat sal dit kan keer? Die wil van al hierdie mense om anders te doen as wat God wil. Daarom bid ons dit nie net vir ons nie, maar vir alle mense, herhaaldelik. Ons smag na ’n beter wêreld, ons smag na die koms van God se koninkryk. Ons smag daarna dat God se wil op aarde sal geskied.
“If we find ourselves with a desire that nothing in this world can satisfy, the most probable explanation is that we were made for another world.” C.S. Lewis