Genesis 1:1-31
3Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig. 4God het gesien die lig is goed, en Hy het die lig en die donker van mekaar geskei. 5God het die lig toe “dag” genoem, en die donker het Hy “nag” genoem. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die eerste dag.
Om oor te gesels of te dink:
- Lees die hele hoofstuk 1 van Genesis. Hoeveel keer lees jy God se naam. Gaan tel nou weer hoeveel keer lees jy die woord Hy of Hom in verwysing na God. Hierdie hele hoofstuk handel oor God. God is besig. Wat al die werkwoorde wat gebruik word om God se handelinge in hierdie hoofstuk te beskryf?
- Die Israeliete se antwoord op hulle donkerste tye is God. ‘n God wat nie passief toekyk nie, maar aktief in werkwoorde (handelinge) besig is. God spreek, skep, maak, sweef, skei, onderskei, seën, ens. Hierdie hoofstuk is die inleiding van ‘n hele geloofsboek waar God handel met Sy volk. Hy is teenwoordig, betrokke en in aksie. Hy is nie afwesig of passief nie. Die hoofstuk is bevestiging van geloof. Hoe kan jy hiervan getuig? Hoe kan jy getuig van God se aktiewe betrokkenheid in jou lewe?
Gebed:
Here God, my hele lewe en wese moet deurtrek wees met U en U naam. Oral waar ek kyk moet ek U sien en bewus wees van U. Vader, wanneer ek dit nie doen nie, vra ek dat U my gedagtes sal terugbring na U.
Here God, U handel in aktiewe handelinge in my lewe heeldag. Wanneer ek blind word daarvoor vra ek dat U my weer daaraan sal herinner.
Dankie dat ek daarvoor kan vra.
Amen.