Johannes 20:19-23
19Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!” 20Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy vir hulle. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien. 21“Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” 22Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees! 23As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.”
Om oor te gesels en te dink
Nadat Jesus aan Maria Magdalena verskyn het, verskyn hy ook aan die dissipels. Hulle het dit nie verwag nie en was nog verward en bang oor die nuus van Maria vir hulle gebring het.
Jesus groet hulle met ’n vredesgroet en wys vir hulle dat dit werklik Hy is. Hulle was baie bly toe hulle die Here gesien het. Hy hulle weer vrede toegebid en vir hulle die opdrag gegee om uitgestuur te word en te gaan vertel wat hulle beleef het.
Hulle hoef nie bang te wees nie omdat die Heilige Gees by hulle is. Jesus sê dis belangrik om in vrede en vergifnis met die mense om ons te lewe.
Vandag groet die Here jou ook met Sy vrede en stuur jou ook om te vertel van wat jy van Hom beleef het. Jy hoef nie bang te wees nie, want Sy Heilige Gees is by jou. Gaan leef vandag in hierdie vrede.
Gebed
Here Jesus, dankie vir U vrede! Dankie dat ek aan U behoort. Mag ek vandag U vrede beleef en deel waar ek gaan. Amen.