Psalm 100:1-3
'n Dankpsalm. Juig tot eer van die Here, almal op aarde! Dien die Here met blydskap! Kom voor Hom met gejubel! Erken dat die Here God is: Hy het ons gemaak en ons is Syne, ons is sy volk, sy eie kudde.
Om oor te gesels en dink:
Gister het ons gekyk na ons beeld van God. Hier sien die digter God as 'n herder. Neem 'n oomblik en leef jouself in hierdie metafoor in. Op watter terrein loop jy tans? Waar loop die Herder? Wat doen die Herder vir jou? Wat vra die Herder van sy kudde?
Neem 'n oomblik van stilte
Wanneer ons in advent op vreugde fokus, word ons herinner dat vreugde nie iets is wat uit die lig val nie. Nee, God is die bron van ons vreugde agv wie God is en wat God doen. Op vreugdelose dae word ons genooi om ons perspektief na God te skuif en te onthou dat ons nie aan onsself of ons omstandighede behoort nie.
Gebed
Here, vandag wil ek stil word en weer onthou waar my ware naelstring lê - vas aan U! Dankie vir al U versorging en goedheid. Dankie dat U, selfs in tye van swaarkry, steeds by my is. Help my asb om U, o Herder, te vertrou en getrou na te volg en my vreugde by U te vind. Want aan U liefde is daar werklik geen einde nie.
Amen