Donderdag 17 Februarie

Lukas 11:9-13
9“Ek sê vir julle: Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word. 10 Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word. 11 Is daar 'n pa onder julle wat as sy seun vir hom 'n vis vra, vir hom 'n slang sal gee in plaas van die vis? 12 Of as hy 'n eier vra, vir hom 'n skerpioen sal gee? 13 As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee – die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.

Om oor te gesels en dink:
Jesus moedig sy dissipels aan om te volhard in gebed. Ons moet vra, soek en klop. Soos wat ’n aardse pa die beste vir sy kinders sal gee, so sal die hemelse Vader nog meer vir ons gee. Hy gee Homself, die Heilige Gees. Lukas is uniek as hy skryf dat die Vader die Heilige Gees vir ons gee.
Paulus sê in Romeine 8 dat die Gees wat in ons is, ons laat besef dat ons God se kinders is en dat ons na God kan uitroep met die woorde: “Abba, Vader” Ons staan dus in ’n besondere verhouding wat ons deur gebed koester. Die Boodskap vertaal Romeine 8:26-27 treffend: ”26Intussen het God sy Gees aan ons gegee om ons in ons swakhede te help. Ons grootste swakheid is dat ons nie aldag weet wat ons moet bid nie. 27 Maar in sulke tye bid die Gees self vir ons. Hy vertaal al ons swaarkry in hemelse taal. Hy gaan sug en kla namens ons daar by God. En omdat God die Heilige Gees deur en deur ken, weet Hy presies hoekom sy Gees so ernstig vir ons bid. En God weet ook dat die Gees altyd volgens sy wil vir al die gelowiges bid.”

Gebed
Hemelse Vader, dankie dat U Heilige Gees in my is. Dankie dat U my help om te bid. Help my om te bid… Amen.

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika