Titus 3:8-9
8Dit is 'n betroubare woord. Daarom wil ek hê dat jy van hierdie dinge met groot nadruk moet getuig, sodat dié wat tot geloof in God gekom het, hulle op goeie werk kan toelê, werk wat goed en nuttig is vir die mense. 9Maar jy moet jou nie inlaat met dwase strydvrae en geslagsregisters en met getwis en stryery oor die wet van Moses nie, want dit is nutteloos en sinloos.
Om oor te gesels of te dink:
- Paulus moedig Titus aan om met dit wat sinvol is besig te wees. Hy wil nie hê die gelowiges moet hulleself met sinlose dinge besig hou nie. Wat is sinvol? Om vir ander goedheid te bewys, liefde uit te leef en praktiese dinge te doen wat nuttig is vir die gemeenskap. Wat is sinloos? Om te stry oor die leer, dogmas, ordeninge en nuanses van die kerk.
- Waarop spandeer ons, ons energie as gelowiges? Is ons besig om sinvol in die wêreld en gemeenskap deel te neem deur goedheid te bewys, liefde uit te leef en nuttige dinge vir ander te doen? Waar sien jy getuienis hiervan? Hoe is jy besig om sinvol jou energie te spandeer? Deel jou hart met die Here. Vra dat die Here jou hart ondersoek.
- OF is ons as gelowiges met sinlose oefeninge? Is ons besig om met mekaar te baklei oor interpretasies, reg, meer reg en mees reg? Waarom sou Paulus sê dat hierdie sinloos is? Hoe neem jy deel aan hierdie sinlose (volgens Paulus se argument) oefeninge? Waarom is dit vir jou so belangrik? Deel jou hart met die Here. Vra dat die Here jou hart deeglik sal ondersoek.
Gebed:
Here van my lewe,
Ek wil so graag U beeld uitdra na ander. Ek wil vir die wêreld U goedheid, liefde en genade wys. Maar wanneer ek myself kom vang baklei ek eerder met ander gelowiges oor dit wat nie werklik belangrik is nie. Ek baklei oor my eie voorkeure, wat vir myself lekker en beter is, wat ek van oortuig is. Here, help my om te vertrou dat U self daardie oortuiging in iemand se hart kan plant. Help my Here om te fokus om ‘n getuie te wees van wie U is, eerder as al die verkeerdhede wat mense doen volgens my. Here, ek kan erken dat hierdie vir my moeilik is. Help my asb. hiermee.
Amen.