Handelinge 11:27-30 (NAV)
27 In dié tyd het daar profete van Jerusalem af na Antiogië toe gekom. 28 Een van hulle, met die naam Agabus, is deur die Gees gelei om te voorspel dat ‘n groot hongersnood die hele wêreld sou tref. Dit het dan ook in die tyd van keiser Claudius gebeur. 29 Die gelowiges het toe besluit dat elkeen na sy vermoë sou bydra tot ‘n hulpfonds wat vir hulle medegelowiges wat in Judea woon, gestuur sou word. 30 Hulle het dit gedoen en die geld met Barnabas en Saulus aan die ouderlinge in Jerusalem gestuur.
In ’n missionale kerk is daar sigbare reg en geregtigheid.
In die kerk in Antiogië was die oortuigings dat almal moet hê wat hulle nodig het, en dat almal in regte verhouding met mekaar moet wees in die lewens van die gemeentelede sigbaar.
Dit was ’n merkwaardige getuienis vir die eerste eeu; om vir iemand om te gee wat minder as jy het en anders as jy is was doodgewoon ’n volksvreemde gedagte, totdat die Christene die waarde daarvan aan hulle leefwêreld bewys het.
Die kerk in Antiogië, sowel as die Kerk vandag, word deur God se genade gemotiveer, nie deur skuldgevoelens nie. Omdat ons genade in oorvloed ontvang het, kan ons nie anders as om dit deur ons te laat vloei nie.
’n Missionale kerk se eerste reaksie op die nood van ander is altyd om te kyk hoe hulle kan help, na vermoë, veral as dit by die nood van medegelowiges kom. ’n Missionale kerk is na buite gerig, en nie na binne nie.
Hierdie werk wat Barnabas en Saulus gedoen het was so belangrik dat Lukas in Handelinge 12:25 spesiaal melding maak dat hulle dit voltooi het.
“Mercy detached from justice grows unmerciful. In the moral sphere, every act of justice or charity involves putting ourselves in the other person’s place and thus transcending our own competitive particularity.” C.S. Lewis