Here, leer ons om te bid.
Matteus 6:9; Psalm 131:2
“Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word;
2 Ek het rus en kalmte gevind. Soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind.
Ons gaan in die volgende 40 dae tot en met Opstandingsondag fokus op gebed.
Ons bid wanneer ons met God praat. Ons praat met God wanneer ons bid.
Hoe het jy leer praat? Dink vir ’n oomblik daaroor… Jy het leer praat deur te luister. Jou ouers, voogde, broers en susters het woord vir woord vir jou geleer, telkemale herhaal vir jou, lettergreep-vir-lettergreep al hierdie woorde vir jou gesê en omtrent feesgevier as jy twee keer na mekaar ’n eenvoudige woord soos “mamma” of “pappa” of “dada” kon sê.
Jy was omring deur jou familie, jy het geluister na wat hulle sê, dit het baie herhaling gevra, en erens moes jy dit waag om te begin praat. Dink vir ’n oomblik aan die belangrike rol wat beide ’n pa en ma hierin speel.
In die twee teksverse waarmee ons vandag gaan reis word God Vader en Moeder genoem. Dink vir ’n oomblik aan die woorde wat die pa in die foto moontlik vir sy kind sê. Dink vir ’n oomblik aan die manier wat ’n ma met ’n kind praat wat veilig in haar arms lê, soos Psalm 131 beskryf.
Het jy al ooit op hierdie manier aan gebed gedink?
Wat vra dit van ons? Wel, dat ons eenvoudig in God se teenwoordigheid sal wees. Dat ons sal vertrou in Jesus se verlossingswerk en sal glo dat daar geen skeiding tussen ons en God is nie en daarom kan ons enigetyd veilig in Sy arms rus. Dit vra dat ons weer soos ’n kind sal wees… en kom ons wees eerlik: dit is moeilik vir ’n grootmens om dit te doen.
Kom ons doen dit saam, as ’n geloofsfamilie, vandag. Kom ons wees soos kinders, en leer om te bid.
There is no evil that the father’s love cannot pardon and cover, there is no sin that is a match for his grace. Tim Keller