Lukas 24:28-31
Toe hulle by die dorpie aankom waarheen hulle op pad was, het Hy gemaak of Hy verder wou gaan. Hulle het egter by Hom aangedring en gesê: “Bly by ons, want dit is amper aand en die dag is al verby.” Toe het Hy ingegaan om by hulle oor te bly. Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle. Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn.
Om oor te gesels of dink:
Die twee reisigers erken Jesus nie terwyl Hy saam met hulle stap nie. Ons is onseker wat die rede hiervoor sou wees. Kan dit wees dat hulle nie sy verheerlikde liggaam ken nie? Of dalk het dit te make met die tema in Lukas om nie te sien nie en dan te sien. Hulle oë het oopgegaan toe Jesus die brood neem, dit seën, breek en vir hulle gee.
Neem 'n oomblik van stilte
Waar het jy dalk al in jou lewe nie vir God raakgesien nie? Was dit dalk in 'n moeilike tyd? Of dalk 'n besige tyd?
God verlaat ons nooit nie. Hierdie teksgedeelte van die Emmausgangers herinner ons daaraan dat selfs wanneer ons dit nie raaksien nie, is God met ons. Stap God saam met ons. Vertroos en bemoedig ons. Mag jy vandag 'n oomblik neem, terugkyk in jou eie lewe en raaksien waar God met jou was waar jy nie sò gedink het nie. Mag jy God vandag raaksien.
Gebed
Here, dankie dat ons opnuut bewus kan word van U teenwoordigheid. U teenwoordighied ook in ons verlede. Here, wanneer ek weer alleen voel, help my om bewus te wees van U nabyheid. Ek wil U vandag ook graag raaksien. Maak my oë oop om U vandag ook te kan beleef in my alledaagse lewe. Amen