Lukas 10:40
Sy kom toe daar staan en sê: “Here, hinder dit U nie dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê sy moet my kom help!”
Om oor te gesels of te dink:
- Marta kom staan letterlik oor Jesus en spreek haar ongelukkigheid uit. Sy wil vir Jesus voorskryf wat Hy moet doen. Haar bitterheid, kwaad, moegheid, irritasie en frustrasie loop by haar mond uit. Sy het al te veel gedoen. En sy neem haar suster kwalik dat sy nie help nie. Sy neem die Here kwalik dat Hy nie Maria aanspreek nie. Marta voel dit is nie regverdig dat sy al hierdie goeie werk alleen moet doen nie. Sy is besig met die “regte” dinge, maar haar hart is vol van die “verkeerde” dinge.
- Hoe voel dit wanneer jy te veel van die regte goed doen? Hoe voel dit wanneer jy oorlaai en oorwerk is? Hoe voel dit wanneer jy uitgebrand is?
- Soms kan die regte dinge, ook met die verkeerde hart gedoen word. Wanneer dit gebeur beteken die regte dinge nie eintlik so baie goed nie. Want die Here wat alles weet besef dat ons besig is om ons hert te versondig. Waarmee is jy besig? Is jy besig met die regte dinge? Maar is jou hart besig om versondig te word? Is dit nodig dat jy heroorweeg waarmee jy besig is?
- Vra dat die Here vir jou sal wys hoe lyk die hart, jou wil en jou gees weer in lyn sal bring met Sy hart, Sy wil en Sy Gees.
Gebed:
Here, ek probeer so hard om die regte dinge te doen. Maar soms doen ek dit met ‘n wrok en ‘n bitterheid. Ek doen dit omdat ek moet. Nie omdat ek wil of omdat dit van nature uit my vloei nie. Here, ek vra dat U weer my hart met U hart sal in lyn bring. Ek vra dat U weer my wil met U wil in lyn sal bring. Ek vra dat u weer my gees met U Gees in lyn sal bring. Meer van U Heer en minder van myself.
Amen.